Hierdie simptome sluit onder andere in:
· Die persoon het min energie (is moeg) en toon min belangstelling in dinge rondom hom
· Daar mag dalk skuldgevoelens of gevoelens van geen waarde wees
· Neerslagtige en depressiewe gemoed (persoon kan dalk huilerig / hartseer wees)
· Die persoon kan sukkel om te konsentreer en te fokus
· Verlies aan eetlus of verhoogde eetlus (wat kan lei tot gewigsverlies of toename in gewig)
· Gedagtes van dood of selfmoord
· Veranderinge in die persoon se aktiwitietsvlak (baie rusteloos of uiters passief)
· Veranderinge in kognitiewe vaardighede en spraak
· Insomnia of hipersomnia
As ‘n resultaat sou die persoon met die bogenoemde simptome dan probleme ervaar in sy interpersoonlike -, sosiale - en werksverhoudings. ‘n Sekere hoeveelheid van hierdie simptome moet ook aanwesig wees vir minstens ‘n tydperk van 2 weke voordat iemand met Depressie gediagnoseer kan word. Depressie is ‘n psigies- en mediese diagnose wat liefs deur jou dokter of sielkundige behoort gemaak te word.
Wat veroorsaak depressie?
Daar is nie ‘n eenvoudige antwoord nie, aangesien daar gewoonlik ‘n kombinasie van faktore is wat bydrae dat ‘n persoon depressief kan raak. Dit sluit faktore in soos die:
- biologiese (chemiese invloede in die brein, asook hormonale toestande)
- genetiese (oorerflik)
- psigososiale (lewensomstandighede en persoonlikheids eienskappe)
Hoe word ek behandel as ek met depressie gediagnoseer word?
Onbehandelde depressiewe episodes kan 6 – 13 maande duur, terwyl diegene wat behandeling ontvang se depressiewe episode gewoonlik binne 3 maande opklaar. Herhaaldelike navorsings studies toon dat ‘n kombinasie van psigoterapie (berading) en psigofarmakologie (medikasie) effektiewe maniere is om Depressie suksesvol te behandel en te beheer. Die premature staking van medikasie is veral nie ideaal nie, want dit kan lei tot verdere depressiewe episodes. Medikasie moet nooit sonder die kennis van jou dokter gestaak word nie. Tydens terapie word daar veral gekyk na ongesonde maniere van dink (kognisies) wat bydrae tot Depressie.
Kan die seisoen van die jaar ‘n rol speel?
Daar is gevind dat sommige individue wel meer geneig is om ‘n depressiewe episode te ondervind in die Winter maande van ‘n jaar in teenstelling met ander seisoene. Buiten die normale Depressiewe simptome wat ervaar kan word, is daar ook gemeld dat individue geneig is om te verslaap, sukkel om in die oggende wakker te word en veral ‘n geneigdheid te hê om te ooreet en koolhidrate te “crave”. Hierdie persone kan bykomend ook baatvind by ligterapie. Ligterapie verwys na die blootstelling van spesifieke frekwensies lig op die vel. Natuurlik is daar niks so effektief soos die son self nie! Studies het getoon dat slegs ‘n paar minute daagliks voldoende is om ‘n merkbare verskil te maak aan die persoon se gemoed. As jy dus vind dat jy meer neerslagtig is in die Winder maande, oorweeg om jou koppie tee buite in die Winter-sonnetjie te geniet. Diegene wat wel meer Depressief raak in die Somer maande, worstel tipies met angstigheid, insomnia en gewigsverlies.
Kan kinders ook depressief wees?
Ja! Daar word selfs al bewys dat babas depressief kan raak. Die simptome verskil effens van dié van volwassenes en word soms makliker misgekyk of weg geredeneer as die “normale deel van kindwees en grootword”. Buiten die volwasse simptome, is gemoedskommelinge, uitermatige woedebuie, verhoogde irritasievlakke, moedeloosheid, sosiale ontrekking, sensitiwiteit vir verwerping, fisiese klagtes en neerslagtige gemoed, tipiese simptome wat merkbaar is in ‘n depressiewe kind.
No comments:
Post a Comment