Tuesday, April 19, 2011

Baba & Kleuter stimulasie

Nuutste navorsing dui aan dat ouers hulle kleingoed moet besig en aktief hou ten einde te verseker dat die brein en liggaam optimaal ontwikkel en sy volle potensiaal bereik.  As ons mooi daaroor dink..…is dit mos eintlik hoe ons groot geword het.  Kan jy onthou hoe jy as kind ure voor die televisie deurgebring het en die een rekenaarspeletjie na die ander gespeel het?  Ek twyfel!  Die waarskynlikheid is eerder dat jy sal kan onthou hoe jy en jou beste maats fiets gery het oor die naweke, tente met komberse onder groot bome in die agterplaas “gebou” het, by die dorp se swembad baljaar het, water ballonne vir mekaar buite op die gras gegooi het, modder koekies gebak het en paaie en plaasdamme tussen die vrugtebome gebou het vir trekkertjies en trokke.  Die moontlikheid is ook groter dat jy erens ‘n foto van jouself as ‘n baba het waar jy iewers op ‘n kombuisvloer tussen ‘n paar plastiek speelgoed of teelepels en ‘n leë roomysbak gesit en speel as het, as ‘n foto waar jy knus toegedraai in ‘n kombersie in ‘n sit-stoeltjie gesit het.  Ons het almal met hope beweging en aktiwiteit groot geword.  Ongelukkig is dit nie vandag meer altyd die geval nie. 


PAMPERS het onlangs die “Active Baby Campaign” geloods in ‘n poging om ouers aan te moedig om hulle kleingoed die vryheid van beweging te gun, in plaas daarvan om hulle te veel in dra-stoeltjies en wiegies te hou.  Beweging is ontsettend belangrik vir ‘n kleinding se fisiese en geestes ontwikkeling.  Hoe meer ‘n baba beweeg, hoe meer word sy / haar sintuie stimuleer, wat op die beurt weer jou baba se kennis van die wêreld verbreed.  Beweging verbeter ‘n baba se been- , spier- en brein ontwikkeling.  ‘n Kind het al hierdie inligting nodig as hulle begin loop rondom 12 maande.

HOE STIMULEER JY JOU KIND?
Stimulasie behels dat jy take, speletjies, speelgoed en ander voorwerpe tot ‘n kind se beskikking stel sodat sy dit op so ‘n manier kan gebruik dat sy iets daaruit leer en deur herhaling en oefening ‘n nuwe vaardigheid sal ontwikkel.  Dit is byvoorbeeld om jou kind stap vir stap te leer hoe om ‘n takie te bemeester.  Soos hoe om ‘n lepel te gebruik of ‘n liedjie te leer.  Selfs badtyd of ‘n motorrit kan ‘n baba stimuleer.  Gesels en vertel lustig oor wat jy alles sien en ruik, waarlangs jy ry, hoe die water in- en uit die bad loop en op so ‘n manier leer jou baba of kleuter nie net nuwe woorde nie, maar ook basiese begrippe wat later noodsaaklik is vir wiskundige- en logiese denke.  ‘n Liefdevolle benadering is ook baie belangrik.  Kinders leer makliker as hulle ontspanne is en veilig voel.  As ouers dus ongeduldig en kwaai is, is die kanse groot dat jou kind die omgewing as onveilig gaan ervaar, stress-hormone sal afgeskei word en dit maak dit baie moeilik vir die sentrale senuweestelsel en brein om inligting te prosesseer en nuwe dinge baas te raak.

SLIMHEID IS NIE DIE EERSTE PRIORITEIT
Wanneer jy jou kind se ontwikkeling stimuleer sodat jy met sy vordering kan spog…mis jy die punt!!  Die oomblik as volwassenes druk op kinders plaas om te presteer of te leer, bestaan die moontlikheid dat jy jou kind gaan oorstimuleer.  Jou kind moet kan pret hê en iets leer, sonder die druk om te moet wen of die wete dat hy net goed genoeg is as hy iets regkry.  Die babas wat vroeër begin loop is nie noodwendig die slimste nie.  Laat vaar regtig alle idees van mededinging en die hele konsep dat vroeër beter is.  Die fokus moet op ontwikkeling wees – en nie op slimheid nie.  ‘n Ontwikkelende kind ontwikkel eers fisiek, dan emosioneel en sosiaal en eers dan kognitief.  Op so ‘n manier verseker jy optimale brein ontwikkeling en ook goeie regulering van gedrag en emosies as hulle ouer is.  Dit is dus nie noodsaaklik vir ‘n 2-jarige om te kan lees nie (kognitiewe ontwikkeling).  Dit is egter onderandere eerder noodsaaklik vir daardie kleuter om goeie balans te hê (fisiek) en gemaklik oogkontak te maak met ander (sosiaal). 

DIE BREIN ONTWIKKEL EN GROEI DEUR VOLGEHOUE STIMULASIE
Die brein bestaan uit biljoene klein senuselletjies (neurone) wat inligting bere en oordra.  Tussen die selle is daar paadjies sodat boodskappe van neuron tot neuron oorgedra kan word.  Met geboorte is jou baba se brein nog onvoltooid.  Die meeste breinselle is reeds daar, maar die paadjies tussen die selle moet nog gevorm en versterk word.  ‘n Pasgebore baba se brein het ook nog baie min miëlien (‘n dik vetterige stof wat die senuselle isoleer).  Miëlien help om boodskappe vinniger en duideliker oor te dra sodat dit verwerk kan word.  Dit is hoekom babas en jong kinders inligting stadiger verwerk as volwassenes.  ‘n Dieet ryk aan Omega-3 (spesifiek die vetsuur bousteen DHA) is vanaf swangerskap tot in die ouetehuis noodsaaklik vir ‘n gesonde brein en senuweestelsel.  Die aantal selle en die organisasie van hierdie paadjies bepaal alles van jou kind se vermoë om eendag syfers te herken, ‘n bal te kan vang en emosies te reguleer.  Van vroeg af sal sy sintuiglike ervarings, beweging, emosionele belewenisse en verstandelike blootstelling beinvloed hoe sy brein ontwikkel.

WAARNA OM NA UIT TE KYK EN WANNEER OM BEKOMMERD TE WORD
  • Tussen 4 – 6 weke moet jou baba na jou kan kyk met al twee ogies vir ‘n paar sekondes op ‘n slag.  Jou baba behoort ook jou kop te volg as jy dit stadig van kant tot kant beweeg.
  • Tussen 6 – 10 weke behoort jou kleinding te begin glimlag.
  • Tussen 2 ½ - 4 maande moet jou baba haar koppie al lekker stewig kan hou in ‘n sittende posisie.
  • Tussen 5 – 7 maande moet jou baba kan begin rol vanaf maag na rug en andersom.
  • Tussen 6 – 9 maande behoort jou kleinding al 2 of meer klanke bymekaar te voeg en te begin babbel (bv. “da-da”)
  • Tussen 7 – 9 maande sal jou kleinding sonder enige ondersteuning regop kan sit.
  • Tussen 9 – 11 maande verwag ons dat jou baba sal begin kruip.
  • Tussen 12 – 16 maande sal jou baba begin stap.
Kontak 072 725 1661 vir meer inligting. 

2 comments:

  1. Baie insiggewende artikel, vir inligting oor
    nuutste navorsing i.v.m. Omega 3 kontak my
    gerus by ijgnld@gmail.com

    ReplyDelete
  2. i read a lot of stuff and i found that the way of writing to clearifing that exactly want to say was very good so i am impressed and ilike to come again in future.. health

    ReplyDelete