Tuesday, May 3, 2011

Spelterapie - meer as net speel?

 Spelterapie word al vir meer as 50 jaar nagevors en benut deur sielkundiges as deel van hul terapie met kinders.  Vir baie ouers is spelterapie opsigself nog ‘n onbekende veld wat dikwels verwar word met praktyke wat kinders leer hoe om te spel.  Spelterapie behels egter iets heeltemal anders en word erken as ‘n suksesvolle sielkundige intervensie met kinders, wat beoefen word deur ‘n opgeleide spelterapeut of sielkundige.
   

Wat is spelterapie? En hoe kan dit jou kind help?

Elke kind is ‘n unieke individu met sy eie spesiale eienskappe.  Soms gebeur dit egter dat ‘n kind negatiewe gebeure (soos verlies, hospitalisering, egskeiding van ouers, trauma, verwerping) in sy lewe ervaar of dat sekere emosionele- en gedragsprobleme (soos oormatige hartseer, vrees, angs, lae selfbeeld, aggressiewe of boelie-gedrag) na vore kom wat die kind se daaglikse funksionering (sy verhoudings, ontwikkeling, slaap- en eetpatrone) beduidend beïnvloed.  Spelterapeute werk gewoonlik met kinders tussen 3 en 12 jarige ouderdom, maar soms ook met adolessente wat komplekse lewenservarings of sielkundige probleme moet hanteer.

Gedurende spelterapie word die kind gehelp om sy gevoelens en denke te verstaan en om sin te maak van negatiewe ervarings in sy lewe terwyl hy speel.  Net soos wat ‘n volwassene in terapie oor sy ervarings gesels, gebruik die kind in spelterapie speel om te kommunikeer. Aangesien speel vir kinders ‘n natuurlike vorm van kommunikasie is en dit iets is wat hulle geniet, is hierdie vorm van terapie nie-bedreigend en voel die kind nie asof hy ondervra word nie.  Spelterapeute benut dus spel as ‘n primêre vorm van kommunikasie en gesels as ‘n sekondêre vorm daarvan.

Ouers speel ‘n belangrike rol in die kind se terapie – nie net is hulle gewoonlik die eerste persoon wat die terapeut kontak nie, maar hulle is ook aktief betrokke om die terapeut te help om die kind en sy lewenswêreld te verstaan deurdat hulle inligting verskaf oor die kind se geskiedenis, enige stresvolle gebeure in sy lewe en spesifieke bekommernisse wat hulle oor die kind en sy familie het.  Die ouers is daar om die kind te ondersteun en te motiveer om sy sessies by te woon.  Leiding aan ouers deur die spelterapeut is dus noodsaaklik. Daar is ook gereelde terugvoer tussen die ouer en die terapeut om die kind se vordering en funksionering te monitor. 

Die spelterapeut werk soms ook saam met ander rolspelers (onderwysers, versorgers) in die kind se lewe ten einde die aard van die kind se probleem ten volle te begryp en om aan hulle die nodige leiding te bied rondom die hantering van die betrokke kind.  Kontak met of die verwysing na ander professionele persone (mediese dokters, sielkundiges, arbeids- en spraakterapeute) is dikwels deel van die terapeutiese proses om die kind op die bes moontlike manier by te staan en die probleem aan te spreek.  Dit gebeur natuurlik altyd met die ouers se toestemming!

Spelterapie behels dus baie meer as om bloot net te speel en word ook soos ander terapeutiese intervensies suksesvol gebruik in die hantering van ‘n verskeidenheid probleme wat ‘n kind mag ervaar.  

Geskryf deur Cynthia Bekker
Vir meer inligting kontak: 082 854 0901



No comments:

Post a Comment